Skoolwapen
DIE nuwe skoolwapen soos dit op die buiteblad verskyn van die1965-jaarblad, is die produk van byna twee jaar se harde werk. Gedurende die laaste kwartaal van 1863, is toevallig ontdek dat die ou wapen van die skool, wat reeds sedert die vroeë veertiger-jare in gebruik is, nie heraldies korrek is nie. ʼn Kenner het minstens agt foute daarop uitgewys. Hierdie feit asook die aanname van die nuwe Wet op Heraldiek, nl. Wet nr.18 van 1962, het dit noodsaaklik gemaak dat die hele aangeleentheid van die skoolwapen in hersiening geneem moes word.
Vroeg gedurende 1964 is ‘n komitee benoem om voort te gaan en deeglik ondersoek in te stel. Die hulp van ‘n kenner van heraldiek is ingeroep en die komitee het met ʼn gemotiveerde aanbeveling gekom dat in nuwe wapen ontwerp moes word.
Uiteindelik, na meer as in jaar se ondersoeke, beplanning, oorweging en honderde tekeninge is die wapen aan die Buro vir Heraldiek voorgelê. Hierna het die lang periode van wag gekom. Op 29 Maart 1966, het ons kennis gekry dat die wapen goedgekeur is en reeds op 4 Maart 1966, per Goewermentskennisgewing in die Staatskoerant Nr. 1389, vir kennisname gepubliseer is.
Iemand wat nog nie ‘n skoolwapen ontwerp het nie, sal nie maklik die hoeveelheid werk daarby betrokke kan peil nie. ʼn Besondere woord van dank aan die ywerige Komitee en in spesiale woord van dank aan mnr. J. J. du Toit, ons kunstenaar, wat ure en ure aan die tekeninge gewy het en geen moeite ontsien het om die Buro van Heraldiek lastig te val nie, om sodoende die saak te bespoedig.
Die wapen is so eenvoudig as moontlik ontwerp en die oorspronklike kleure word behou. Dit simboliseer die tweërlei rigtings aan in Hoër Tegniese Skool. Die boek verteenwoordig die akademiese rigting terwyl die rat die tegniese rigting simboliseer. Hierdie twee rigtings word in hierdie skool so integraal inmekaar geweef soos die voeë van in swawelstertvoeg.
Die eindproduk van ons onderwys en opvoeding waarna in hierdie skool gestreef word, is die harmonieuse opgevoede persoonlikheid, wat versinnebeeld word in die twee fakkels wat die vlam van beskawing voortdra om bewaar te bly vir geslagte wat kom.
Hierdie mooi simboliese uitbeelding sou geen waarde hê indien die pragtige leuse “Ons Dien,” nie die draers van hierdie mooi wapen tot daadwerklike dienende persoonlikhede laat ontwikkel nie. -J. J. REINECKE, Uittreksel uit die Jaarblad van 1965