LANDSDIENS
HTS Middelburg Landsdiensklub leef ons skool se leuse uit: Ons Dien!
Die vier pilare waarop Landsdiens geskoei is, is liefde vir God, liefde vir die natuur, liefde vir arbeid en liefde vir ons naastes: dit is die vier liefdes waarna HTS Middelburg se Landsdiensklub streef én daagliks uitleef!
Ons pak verskeie aksies aan om die vier liefdes te ondersteun. Ons is betrokke by fondsinsamelingsprojekte, ons bederf ons damespersoneel met vrouedagkaartjies, ons maak skoon en knap op, ons hou lofsangaande – en natuurlik ruim ons ook tyd in om sosiaal te verkeer en mekaar beter te leer ken.
Ons hou jaarliks ‘n interne klubkamp, waar leerders gekies word vir die provinsiale kamp. HTS Middelburg spog met 12 leerders wat provinsiaal gaan kamp het. Nog ʼn groter prestasie is dat vyf van ons provinsiale kampers gekies is om Mpumalanga nasionaal te verteenwoordig. Ons is veral trots op Desiré van Heerden en Andries van Wyk wat as onderhoofleiers verkies is!
Die landsdiensaksies vind op Maandagmiddae, vanaf 14:00, in juffrou Jonél du Toit se klas plaas. Raak deel van die landsdiensfamilie waar jy altyd geborge voel en help om ʼn verskil te maak!