BOODSKAP VAN DIE HOOF

Welkom by HTS Middelburg – ’n skool met ’n trotse geskiedenis en ’n opwindende toekoms.

Vir byna 100 jaar vorm HTS Middelburg jongmense van gehalte – leerders met karakter, deursettingsvermoë en trots. Hierdie nalatenskap leef voort in elke Rooie wat vandag deur ons hekke stap. Ons bou nie net voort op die fondasie van die verlede nie, maar skryf elke dag saam aan die volgende hoofstuk van ons storie.

Ek glo vas daaraan dat konsekwentheid en integriteit die grondslag van ware sukses is. Soos ek dikwels sê: “Hou aan om die regte ding reg te doen, en die oes sal inkom.” Hierdie eenvoudige waarheid rig ons ingesteldheid – in die klaskamer, op die sportveld en in hoe ons mekaar elke dag hanteer.

As hoof is dit vir my ’n voorreg om deel te wees van ’n skool waar mense werklik saak maak. Ons sien elke leerder raak, ondersteun hul groei en moedig hulle aan om hul volle potensiaal te bereik – nie net in prestasie nie, maar ook in karakter.

HTS Middelburg is meer as net ’n plek van leer; dit is ’n gemeenskap waar waardes geleef word, waar vriendskappe gebou word en waar trots diep gewortel is. Ons staan vas in ons tradisies, maar kyk met selfvertroue na die toekoms.

Soos ons nader beweeg aan ons 100-jaar viering, nooi ek u uit om saam met ons deel te wees van hierdie besondere reis – waar ons die verlede eer, die hede vier en die toekoms vorm.

Hier bou ons nie net leerders nie – ons bou Rooies vir die lewe.

Rooies-groete

Mnr. Malem van Heerden

Hoof: HTS Middelburg